OHRIGSTAD
  Home Page
  Accommodation
  Wine and Dine
  Maps
  Places of Interest
  Communities
  Business
  Schools & Churches
  History
   
   
 

   
   
   
 

   
   
   
 

   
   
   
 

   
 

 

   
   
   
   
   
   
   
   

Schools & Churches...

Laerskool Ohrigstad - Geskiedenis...

Onder leiding van Kmdt P B Swart en mnre C van Bouillon, P G van der Merwe en M D de Clerk is daar teen ongeveer 1906 op Ohrigstad ‘n Christelike-Nasionale Onderwys (Privaatskool) geopen met mnr de Jong as onderwyser. Hy was egter nie voldoende gekwalifiseer nie en die skool is na drie maande gesluit.
Op 1 Junie 1907 kon die skool egter weer begin word deur die aankoms van mnr Willem Akkerhuys.  Hy was vir drie jaar onderwyser in die verfynde hoofstad Den Haag, Nederland.  Besiel met ‘n warm gevoel vir die nood van die Afrikaner het hy alles prysgegee en hierheen gekom, onder die indruk dat Ohrigstad maar net nog ‘n stad is…..

Met sy koms na Ohrigstad, sit Akkerhuys op die koets se dak om so die indrukwekkende natuurskoon ten volle te geniet. Mnr Akkerhuys se salaris was vasgestel op 15 pond per maand maar die ouers kon dit nie betaal nie.

Onderrig word eers in ‘n sinkgebou gehou tot en met 30 Julie 1908 toe mnr Klooster, Inspekteur van Onderwys, as volg rapporteer: “  Een slecht ingerichte sinken keet met grond vloer …. ondenkbaar slecht:  den banken zijn slecht, er is geen kast, geen stoel, geen lesjenaar …. met genoeg Hollandse boeken.  De onderwyzer staat hier met vyf klasjen.  Assistentie dringend nodig.”

Die Klip Gebou...

Die hoeksteen van die nuwe Milnergebou is gelê op 3 Maart 1909.  Op 20 Julie 1909 is die nuwe skool geopen.  In 1910 is die sinkgebou vir 25 pond verkoop en ‘n “Piano” is met die geld aangeskaf. Die nuwe klipgebou was ‘n groot verbetering maar die uitrusting was nog baie swak.  Banke wat bedoel was vir 4 leerlinge moes dikwels diens doen vir 6.  Die houtbord is plaaslik gemaak en was besonder klein.  Twee stukke kryt was beskikbaar en moes vir etlike maande hou en is dus soos goud opgepas.  Vir elke 4 leerlinge was daar 1 lei.
Onderwys meestal in Engels, maar in 1920 skryf die hoof van Krugerspost: “ Begin gemaak om onderwys te gee in Afrikaans.” Die ouerderdom van leerlinge het gewissel tussen 7 en 21 jaar en by opening was standerd 3 die hoogste standerd.  Sommige van die seuns het snorre en baarde gehad. Skoolbywoning het afgehang van wat op die plase aangaan. Kinders was dikwels afwesig as gevolg van nagmaal, jagtogte, oestyd of besoeke aan die bad by Spekboom.
Elke leerling moes ‘n bottel water saambring om die boompies aan die lewe te hou.  Daar was ‘n kamp vir die onderwysers se perde en die leerlinge se donkies. Sedertdien het baie verander, getalle het gestyg en gedaal, maar die skool het bly voortbestaan.  Die infrastruktuur vir sport en opleiding by hierdie skool is stewig gevestig en is ons van mening dat daar altyd hier ‘n skool sal wees. Tans is Mev V L Ferreira die skoolhoof en daar is 4 onderwyseresse.  Die skool word deur ‘n Skoolbeheerraad bestuur wat uit ouers en onderwysers bestaan.
Jaarliks word daar fondsinsamelings gehou om die dag tot dag werksaamhede van die skool te befonds.  Die geleenthede is al ‘n instelling, bv ‘n jaarlikse gholfdag, en tweejaarlikse Revue.   Die skool is ook afhanklik van donasies en skenkings bv. die rekenaarsentrum bestaan uit 16 rekenaars wat deur ‘n maatskappy geskenk is. Hoewel dit nie ‘n groot skool is nie, word die kinders hier sorgvry en veilig groot en bewys die goeie prestasies wat hulle in die Hoërskole ontvang, dat die persoonlike aandag en onderrig hier in die kol is.

Nederduitse Gereformeerde Kerk

Die kenmerkende wit toring van die sierlike kerkgebou van die N G Kerk Ohrigstad begroet toeriste en besoekers aan ons Vallei reeds kilometers voordat hulle die dorpie bereik. Vir meer as 50 jaar werk die gemeente om die Koninkryk van die Here in hierdie pragtige omgewing uit te brei. Diè klein maar aan-die-gang gemeente is die enigste van die hoofstroomkerke wat selfstandig hier funksioneer. Daarom is enigeen meer as welkom om by en saam met ons die warmte van die gemeenskap van gelowiges te kom beleef. 'n Verskeidenheid byeenkomste en bedieninge maak deel van ons werksaamhede uit. Woon gerus ons erediens by op Sondae 09:00, geniet 'n koppie tee/koffie na afloop  daarvan en vind meer uit.

  • Straatadres: H/v Potgieter en Carl Trichardtstrate
  • Telefoonnommers van Blokleier-ouderlinge:
    • Umm Howell 013-238 0440
    • Piet Steyn 082 751 6556
    • Ansie Viljoen 082 855 3117
    • Pastorie 013-238 0260

Tourism Association - PO Box 153, Ohrigstad, 1122, Limpopo, RSA
Tel: +27(0)13 - 238 8100 & Fax: +27(0)13 - 238 8104
Email: info@ohrigstad.net