Dis 'n pragtige omgewing waar die groen van die vrugbare landerye in die valleie skerp afsteek teen die wintervaal van die omringende bosveldberge. Dis 'n harde wêreld die; 'n wêreld waar 'n man spoedig sy moses teëkom as hy nie sy 'boer' ken nie, 'n wêreld waar dorings en bos, droogte en reën, veesiektes, wilde diere, muskiete en die 'koors' teen wil en dank respek by mens en dier afdwing.
Vandat die eerste blankes meer as 150 jaar gelede pogings aangewend het om die deel van die Oos-Transvaal te tem, lees ons net van swaarkry en ontberings, van hartseer en verlies aan kosbare menselewens. Die sug na vryheid en 'n eie hawe het die blankes aangespoor om aan te hou met soek na 'n gangbare pad na Delagoabaai. Weer en weer is daar probeer - weer en weer het perde en beeste gevrek en het mense aan die koors gesterf. Boonop was die gebied teen die berg af na die see toe seker een van die onherbergsaamste, mees onbegaanbare gebiede in die hele Suid-Afrika. 'n Gangbare pad vanaf Ohrigstad na die hawe sou hulle nooit kry nie.
Met die droom wat nie 'n werklikheid geword het nie, onderlinge twis oor hoe die gebied regeer moes word en die uitbreek van nog 'n dodelike koorsepidemie is daar besluit om maar weer verder te trek en is die gebied wat eens die regeringsetel van die Transvaal was, so te sê verlate agtergelaat.
Tog moes enkeles in die Ohrigstad vallei agtergebly het - so getuig die menige verlate grafte van mense wat na 1850 hier begrawe is en verspreid in die valleie lê. Die meeste grafte is vervalle, toegegroei deur dorings en bos, maar hulle wat daar boer - hulle weet.
Waarom sou enigiemand hier in die verlate, onherbergsame vallei wou agtergebly? Is hulle bekoor deur die vrugbaarheid van die grond, die natuurskoon, die ontdekking van nabygeleë goudvelde? Kon hulle weet dat Ohrigstad 150 jaar later op die hoofpad na die Laeveld sou lê en dat duisende toeriste jaarliks daar verby sou ry? Dis te betwyfel, maar oor die afgelope 150 jaar (en lank voor dit) het die inwoners van Ohrigstad en omgewing daarvoor gesorg dat die gebied 'n geweldige ingewikkelde en ryk geskiedenis het wat hoegenaamd nie in die paar bladsye van hierdie gedenkalbum gedek kan word nie.
Praat mens vandag met die inwoners van Ohrigstad, verstaan jy dat dit wat in die geskiedenisboeke staan, jou nog nie die helfte vertel nie. Die familiename word met trots op grafte in plaaskerkhowe uitgewys en families en verbintenisse word met erns uitgelê. Elke kloof, spruit en koppie het sy eie storie of stories. Plante en diere word op hulle inheemse name genoem. En die mense gesels en vertel met oorgawe van vervloë dae se swaarkry, van die dae voor hulle voorouers Ohrigstad getem het en mens voel hartseer wanneer die tyd aanbreek en die lang pad roep. Skielik verstaan jy waarom die dorp nooit vergaan het nie en daar telkens weer asem in sy longe geblaas is. Skielik weet jy: eenmaal 'n Ohrigstader altyd 'n Ohrigstadter.
Dank aan Cecilia Kruger & Ohrigstad Feeskomitee








Free business listing! Online advertorials, marketing, promotions, banners, newsletters and more services available.
Are you buying or selling something? Add your classifieds for free in a multitude of categories with pictures maps and details.