Dit is egter die Tshwane-metroraad (Pretoria) wat die opposisie skielik opgewonde het. Die stad was tot betreklik onlangs nie werklik ’n oornameteiken nie, maar sekere DA-strateë meen harde werk om in plekke soos Soshanguve, Atteridgeville en Mamelodi strukture op grondvlak te vestig, kan vroeër as verwag dividende lewer.
As ’n groot aantal lojale ANC-ondersteuners van die stembus wegbly en alle opposisiekiesers opruk, is die moontlikheid van ’n koalisieregering volgens opposisiepartye nie vergesog nie.
’n Bron in die DA-binnekring het egter teen wilde uitsprake gewaarsku. “Ons gaan vir seker beter vaar, ons kan die ANC skrikmaak, maar van ’n koalisie is ek nie so seker nie.”
Die ANC het in 2009 byna 60% steun gekry en die DA 25%. In Kaapstad is die DA vas oortuig daarvan dat hy die begeesterde aanslag van die gewilde Wes-Kaapse Cosatu-leier mnr. Tony Ehrenreich, die ANC se burgemeesterskandidaat, sal afweer.
Daaglikse peilings toon die DA staan aansienlik sterker as in 2006, toe hy met byna 42%-steun die meerderheidsvennoot in ’n koalisieregering geword het.
Die party se verwagting is dat hy vandag ’n volstrekte meerderheid sal behaal en sodoende nie meer van kleiner partye afhanklik hoef te wees nie.
Die DA se breintrust wou nie ’n voorspelling oor ’n wenpersentasie waag nie en het net gesê hul veldtog het volgens plan verloop en dat die party hard gewerk het om sy kiesers vandag by stembusse te kry.
Mnr. Smuts Ngonyama, Cope se burgemeesterskandidaat in Port Elizabeth, meen ’n koalisieregering om dié ANC-hartland af te neem is nie onmoontlik nie.
Dié stad word allerweë beskou as een plek in die land waar Cope nog sterk op grondvlak staan nadat hy die afgelope twee jaar amper ingeplof het.
“Dis ’n redelike verwagting, maar steeds moeilik. Onthou, dié was nog altyd ’n ANC-bastion wat deur sommige van ons (voormalige ANC-lede wat nou by Cope is) opgebou is.”
Opposisiesyfers toon die ANC het nog verder agteruitgeboer sedert hy in 2009 se algemene verkiesing 49,6%-steun op hom verenig het.
Volgens dié syfers is die ANC en DA glo “kop aan kop” en kan Cope die bepalende faktor wees.
Sommige DA-ringkoppe meen die party kan sy steun van 2009 se 28% tot net meer as 40% vanjaar vergroot.
Mnr. Athol Trollip, die DA se parlementêre leier, het gesê me. Helen Zille, DA-leier, se laaste besoek aan die stad gister het “ongelooflike reaksie” uitgelok. “Die Baai is blou! Ek glo ons gaan dié metro, Baviaans en Kouga hier wen!”
Zille het ook vir oulaas in Kaapstad na kiesers gevry terwyl adj.pres. Kgalema Motlanthe dit vir die ANC gedoen het.
Dr. Pieter Mulder, leier van die VF+, het gesê koalisiepolitiek sal ná vandag belangriker as ooit tevore wees. “En dis waarvoor ons tydens die grondwetlike onderhandelings gehoop het.”








Free business listing! Online advertorials, marketing, promotions, banners, newsletters and more services available.
Are you buying or selling something? Add your classifieds for free in a multitude of categories with pictures maps and details.